Spore van Genade

Hierdie getuienis is een wat ek ‘n hele paar jaar gelede geskryf het, maar eers nou onlangs weer herontdek het… Dit bly steeds een van my gunstelinge… 

bluetrain-diesel

SPORE VAN GENADE

My pa het nog altyd gesê dat sy grootste vrees in die lewe is om ‘n kind raak te ry. Toe hy ‘n paar Saterdae gelede, na werk, by die huis kom, kon ek sien dat iets fout is. Hy vertel toe wat gebeur het en daarom deel ek graag hierdie storie, aangesien dit vir my ‘n absolute wonderwerk is wat daardie middag gebeur het…

My pa is ‘n treindrywer en het diè Saterdag een van daardie spoggerige passasierstreine beman. Hul het skaars uit Oudtshoorn vertrek, toe sy assistent sy skoene uitskop en regmaak vir die voorspelbare rit Mosselbaai toe. Dis ‘n pad wat hulle albei goed ken; vandaar die gemaklikheid. Maar nie hierdie Saterdag nie.

Iewers op pad sien hulle iets op die treinspoor lê, reg in die pad van die aankomende trein. Eers het hulle vermoed dat dit seker ‘n skilpad is, aangesien skilpaaie gereeld op die spore klim, vassit en dan nie weer kan uitkom nie. My pa het sy hand op die rem geplaas om geleidelik spoed te verminder, maar hy vertel dat hy duidelik ‘n stem kon hoor wat vir hom gesê het om harder te rem as wat hy normaalweg, veral met ‘n passasiers trein, sou gedoen het. En watter wonderlike ingryping was dit nie, want net nadat my pa op hierdie gedagte gereageer en dit gedoen het, het hy tot die besef gekom dat daar ‘n kind op die spoor, reg in die trein se pad, is!

Hy het die trein se toeter geblaas om die kind te waarsku dat die trein oppad is, maar geen reaksie gekry nie. Toe eers besef hy dat dit maar ‘n baba is, wat met groot, wild-verskrikte ogies, vreesbevange aan die spoor vasklou. My pa het dadelik die noodrem aangesit en hard gebeur aan die remme, terwyl hy hard begin bid het dat hy die trein betyds gestop moet kry voor hul die kleintjie bereik. Hy het geweet dat daar slegs ‘n 50% kans bestaan om betyds te kan stop. Sy assistent het ook besef hoe naelskraap dit gaan wees en sonder om twee keer te dink, het hy met kaalvoete en al by die bewegende trein uitgespring en die seuntjie met letterlik millimeters net betyds voor die trein weggepluk. Hy het nie vir ‘n oomblik daaraan gedink dat hy sy eie lewe in gevaar stel aangesien hyself ook deur die trein getref kan word sou hy struikel en val. Al waaraan hy kon dink, was om die kleintjie van die spoor af te kry voor die trein hom tref. Hy vertel al wat hy gevra het voor hy gespring het, was dat die Here hom net sal help om nie mis te vat nie…

Toe my pa die trein uiteindelik tot stilstand gebring kry, het hy met skok besef dat die arme kindjie nog nie eens kon loop nie en ook dat die kind se ouers boonop nêrens in sig is nie. Die omliggende huise was ook te ver weg vir so ‘n klein kindjie wat nog nie eers kan loop, om net weg te dwaal. Hy het dadelik die polisie gebel terwyl sy assistent die outjie probeer kalmeer het. Eers toe die polisie daar opdaag, het die pa uit die bloute sy verskyning gemaak, opsoek na sy kind. Ek kon nie help om verlig te voel toe ek hoor dat die polisie die kind in hul sorg geneem het en die pa gearresteer het vir nalatigheid nie…

Ek deel hierdie storie in groot nederigheid, want ek dink nie dat my pa en sy assistent noodwendig helde in die wereld se oë is nie (hoewel baie beslis in myne!), maar ek glo die Here se hand was daadwerklik in alles wat hulle daardie dag gedoen het – ek glo dit was die Here wat daardie dag met my pa gepraat het om die remme stywer aan te draai en sy assistent die moed gegee het om uit die steeds bewegende trein te spring en die kind te red. Ek glo ook dat die Here ‘n groot plan het vir daardie kind se lewe – ‘n tweede kans, en my gebed is dat hy iewers geplaas sal word waar hy die liefde en versorging sal kry wat hy verdien om dit waarvoor hy geroep is, te kan verwesenlik!

Leave a comment