Kian en Liellabelle

Ek ken vir Anneke en Wardiaan al vir baie jare. Destyds toe ek by die ongetroude sel aangesluit het, was Anneke en Wardiaan die twee mense wat my by my huis kom optel het, sodat ek nie vreemd en alleen daar moes aankom nie. Ons was nog nie eers behoorlik by die kompleks se hek in nie, toe hulle my reeds genooi het na die daaropvolgende naweek se beplande safari-ete. Hulle het my dadelik op my gemak gesit, hulle was vriendelik en innemend. En dit was my eerste ontmoeting met Anneke en Wardiaan…

Oor die jare het ek Anneke en Wardiaan onderskeidelik baie beter leer ken, en hulle het diep in my hart ingekruip. Daar was net altyd daai ‘iets’ aan hulle. Hulle was spontaan, opreg en eerlik… en in ontkenning!

Want sien, Anneke en Wardiaan het altyd mekaar se geselskap geniet, en op die oog af het almal ook altyd gedink hul was in ‘n verhouding. Maar hul het dit altyd ontken – ‘nee ons is net vriende jong’ was die antwoord voortdurig. Ek kon van die begin af sien dat dit meer as net vriendskap was. Daar was net daai ‘iets’ tussen hulle – iets wat nie beskrywing nodig gehad het nie. Mens kon dit sien – dit was net hulle wat dit nog moes raaksien!

Soos die jare verby gegaan het, het hulle hul eie journey in hul vriendskap geloop – tot die dag aangebreek het waar dit wat ons almal eintlik al lankal reeds geweet het, uiteindelik aan die lug gekom het – Anneke en Wardiaan is saam! Ons almal was so opreg bly vir hulle. Met die tyd wat aangestap het, het ons eers die verhouding sien groei, en toe die verlowing. Daarna het ‘n baie lekker troue gevolg en was dit vir ons almal uiters spesiaal om die getuies van so ‘n mooi en spesiale geleentheid te wees – ‘n samesyn van twee spesiale mense wat ‘n baie intieme pad met God stap!

En dis juis hier waar hierdie getuienis werklik sy omvang begin aanneem. Die volgende stap vir enige getroude paartjie, is mos maar om met ‘n gesin te begin. Vir Anneke en Wardiaan was dit ook geensins anders nie. Vir Anneke, ‘n Graad R onderwyseres, en baie lief vir kinders, was dit maar moeilik om rond te stap met die wete dat al haar vriendinne om haar swanger raak, behalwe sy. Haar ouderdom het dinge ook nie makliker gemaak nie, en ek dink by tye was sy maar redelik moedeloos en seer oor hierdie ‘leemte’ wat sy in hulle lewens ervaar het. Haar geloof in God was onwrikbaar, maar soos met enige mens was dit nie altyd die maklikste ding om te hanteer nie, hoewel sy, persoon wat sy is, dit nooit gewys het nie.

En toe kom die nuus… ek sit by die werk en kry ‘n whatsapp – ‘Vriendin, ek het ietsie wat ek jou graag wil vertel…’ ek was nog besig om te vra of dit is wat ek dink dit is, toe die sonar foto deurkom. Ek was so onbeskryflik bly vir hierdie twee mense! Woorde kon nie die blydskap in my hart beskryf nie! En toe… toe kyk ek mooi en sien nie net een nie, maar twee embrio sakkies! Jip, dit was ‘n tweeling!!! Anneke het my gevra om saam met hul te bid dat alles sal goed gaan en dat God Sy wakende Hand oor die tweeling sal hou! En bid het ons almal gebid! En getrou was God baie beslis ook getrou!
Met die vraag rakende die geslag, het Anneke gesê dat hul baie graag ‘n seuntjie èn ‘n dogtertjie sal wil he, maar dat hul by God se besluit sal behaag.

En nou sit jy seker en wonder, wat is nou eintlik so spesiaal aan hierdie verhaal? So kom ek vertel julle – hierdie swangerskap is nie net ‘n wonderlike goedvoel oomblik nie. Nee, dis God se journey met twee van Sy kinders – ‘n journey van getrouheid en geloof! En hier is hoekom:
Wardiaan het nog altyd gesê dat hy ‘n tweeling wil he, en dat hy ‘n tweeling gààn hê! En God het hom nie teleurgestel nie! Toe hul die geslag bespreek het, het Wardiaan met vaste versekering gesê dat Hy graag ‘n seuntjie èn ‘n dogtertjie wil hê, en dat hy ook nie daaraan twyfel dat hy hulle sal kry nie. Hy het bloot volstaan by, ‘ek het God gevra vir ‘n tweeling en God het voorsien, so waarom sal God dan nie ook vir my ‘n seuntjie èn ‘n dogtertjie gee soos ek Hom gevra het nie?’ En God het hom ook baie beslis weereens nie teleurgestel nie – want dit ìs ‘n seuntjie en ‘n dogtertjie. Wardiaan het sy bestelling ingesit, en God het daarin voorsien.

En hierdie tannie kan nie wag om hulle te ontmoet nie, nog minder vir die dag om hulle te kan vertel presies hoe spesiaal hulle werklik is, want dis iets wat hulle gaan moet weet! Hulle is nie net enige normale tweeling nie… hulle was haarfyn bestel! Hulle mamma en pappa het ‘n intense pad in geloof gestap na die bestelling, en die beloning was ‘n perfekte eindproduk wat slegs God kon vervul .

Wat ek met hierdie storie probeer bereik – Die Here hou daarvan om Sy kinders so nou en dan te bederf. Anneke en Wardiaan se storie vandat ek hulle ontmoet het, was net een gevul met goddelike liefde, en hierdie is maar net God se manier om vir hierdie twee kinders van Hom te sê, ‘hier is net ‘n klein bietjie van daai goddelike liefde terug aan julle’…

Leave a comment