Die volgende generasie…

Met die skoenboks projek wat aan die gang was, het ek sommer die skoenbokse wat ek moes koop met donasie geld, asook my eie skoenbokse en diegene wat reeds begin inkom het, in die spaarkamer op die bed neergesit.
Met nasionale braai dag, het vriende by my kom kuier en braai, en soos geskenke mos nou maar doen, het hierdie bokse my vriendin se 6-jarige se aandag behoorlik getrek. Sy het geloer en terug gedraai, weer geloer en toe onder my blad kom staan en saggies vir my gefluister, ‘tannie, daai kers geskenkies wat op die bed lê…is dit dalk òns kinders sin?’ Ek het vir haar geglimlag toe ek haar antwoord, omrede èk iets geweet het wat sy nie geweet het nie – soos dat haar geskenkie reeds in die kas weggesteek was! ‘Nee sussie, dis die kinders van die kinderhuis sin’ Sy het my stip aangekyk en baie volwasse vir haar ouderdom geantwoord: ‘oja! Ek het so bietjie vergeet dat ons nie die enigste kinders is vir wie tannie altyd geskenkies koop nie! Tannie koop ook mos vir die kinders wat nie mammas en pappas het nie, kinders wat net ‘n bed en klere het! Weet tannie wat? Dis baie goed dat tannie dit doen, want hulle verdien ook om bietjie bederf te word!’
Ek kon op daardie oomblik haar net vasdruk en styf vashou! My hart het gesmelt vir die wysheid van hierdie 6-jarige. Maar dit was nie net ‘n wysheid wat oulik was nie, dit was ‘n wysheid wat vir my verseker het ons doen actually iets reg!
Want sien, liefste Meandri kom al 5 jaar lank saam met my dankseggings- en skoenboks projekte. Ek glo mos baie sterk daaraan dat die kinders moet saamkom, dat hulle van kleins af moet leer waaroor dit werklik gaan. Daarom gee ek ook elke jaar vir hulle ‘n klein ‘takie’ by die pretdag – dit is streng hulle verantwoordelikheid om die lekkergoed pakkies uit te deel! Dis ‘n taak wat die kinders ontsaglik baie geniet, en dit leer hulle ook om te dien. My vriende vat ook die kinders saam wanneer hulle hul skoenbokse opvul, en verduidelik dan vir die kinders en laat hulle help uitkies. Deur die kinders bloot te stel aan ‘tannie Yolandi se projekte’, soos die ouers dit noem, leer ons die kinders dus van jonks af om te waardeer wat hulle het, asook om vir ander wat nie so bevoorreg is nie, om te gee en hulle te help.
Hierdie spesiale oomblik tussen sussie en my, het vir my net weereens bewys dat dit wat ons hul probeer leer met die projekte, actually vrugte afwerp. Op 6-jarige ouderdom verstaan sussie reeds die konsep dat daar soveel kinders daar buite is wat so min het. En sy wys reeds die nodige empatie teenoor hulle.
Die wete dat ons slaag in ons poging om ‘n nuwe generasie te kweek om eendag by òns oor te neem, maak my hart sommer warm!

Leave a comment