Want Goddelike hoop beskaam nie…

Gister oggend was Michael Lindt se cd vrystelling. En soos oudergewoonte, wanneer hy by die kerk optree, het ons seker gemaak ons gaan. Ons geniet altyd sy musiek, en sy passie is altyd vir my aansteeklik! Gister oggend het hy die hele diens basies behartig. Hy het die praise and worship gelei, en vandaar van die liedjies op sy nuwe cd begin sing, en voor elke liedjie, ‘n bietjie meer van die liedjie se oorsprong self vertel, of as sulks ‘n kort getuienissie gelewer wat by die betrokke liedjie gepas het.

So vertel hy toe sy getuienis van destyds toe hy as kunstenaar begin het – hoe moeilik dit met hom gegaan het, en hoe hy gesukkel het om kop bo water te hou. Hy het vertel hoe hy agter ‘n droom (sy vrou!) aangetrek het George toe, en hoe hy daar aangekom het, nie geld of enige iets gehad het nie. Hoe hy vir dae in sy kar moes slaap, en hoe hy gesukkel het maar altyd bly vashou het aan God se prentjie, nie die ‘geld maak prentjie’ waarin hy oorspronklik vasgekyk het nie, maar regtig God se GROTER prentjie.

Terwyl ek so na hom sit en luister, het ek  begin kyk na waar hy vandag reeds in sy loopbaan staan, die sukses wat hy reeds behaal het. En dit alles het my redelik baie laat nadink…

Nadink, want ek is in my skrywers loopbaan presies daar waar hy daai tyd met sy sangloopbaan was – ek het ‘n baie moeilike jaar agter die rug. Finansieel het dit maar ‘geknor’ by tye! Die boek was harde werk, en maak nie saak hoe hard ek gewerk het nie, dit het so dikwels net nie vir my gevoel asof ek bo gaan uitkom nie, asof al die harde werk ‘n gejaag na wind was! My gemoed was by tye laag, op breekpunt. Ek het vasgekyk in die groter prentjie wat ek in my kop gehad het, maar nooit besef dat dit MY prentjie was, en nie GOD sin nie! Ek wou dikwels moed verloor by tye, maar elke keer het ek net besluit om nòg stywer aan God vas te hou!! En ‘n bietjie stywer… en ‘n bietjie stywer…

Deur gister na Michael te luister, en fisies te ervaar hoedat hy, ongeag hoe moeilik sy begin jare ook al mag gewees het, ‘n sukses van sy loopbaan gemaak het, was wonderlik. Om te hoor dat dit geensins sonder enige voorwaardes was nie , was bemoedigend! Als op God se tyd, en nie Michael se eie tyd nie. Dit het vir my, in my eie journey, soveel hoop en bemoediging gegee! Want dit het vir my gesê, al sukkel jy dalk nou, kàn jy daar uitkom! Dit ìs moontlik! Hou net jou oè op God se prentjie gefokus! En byt vas!  Ja ek suffer dalk nou, maar op God se tyd sal die deurbraak kom! ‘n Deurbraak groter as waarop ek myself ooit op sal kan voorberei!

Soos Michael sê, elke winter word gevolg deur ‘n somer, altyd! En daaraan sal ek vashou! Want die sukses van iemand wat onder begin en homself met God se genade opwerk, bereik hoogtes wat geen mens op aardse kragte kan bereik nie. So ja, dinge lyk en voel dalk vir my op die oomblik asof dit nie beweeg teen die spoed waarteen ek dit sou verkies het nie, en ja dinge voel dalk nou hopeloos, en ja ek voel dalk nou so bietjie negatief… maar God kan, as dit Sy Wil en plan is, my tot dieselfde hoogtes bring. En daaraan sal ek vashou!

Dankie Michael dat jy jou storie met ons kom deel het, ek verseker het nodig gehad om dit te hoor!

Leave a comment